Stories uit die Namib: Die Boorman en die Koffie

Tydens die vorige Uraan-opbloei werk ek vir ‘n eksplorasiemaatskappy in die Namib. Dis my eerste werk as omgewingsbestuurder, en aanvanklik ken ek nie ‘n boor se voor- van sy agterkant nie. Maar, vind ek vinnig uit, alle bore kom met aanwysings. ‘n Boorman is egter ‘n totale ander saak. 

Nou, as iemand jou al ooit ‘n spook- of ander snaakse storie van ‘n boorman vertel het kon jy dalk dink dat hy oordryf of lieg. Maar vandag kan jy maar vir my glo, daai stories is almal waar. Want sien, die boorman het sy eie evolusielyn. Dié begin hier kort duskant Homo neanderthalensis en loop wel vir ‘n rukkie parallel aan die Homo sapiens-lyn, maar die twee ontmoet nêrens.  

Met die eerste ontmoeting met Boorman sal jy glo hy is net maar nog een van ons. Die ontmoeting sal gewoonlik in ‘n publieke plek plaasvind en Boorman sal netjies geskeer en toegedraai daar aankom. In die uur of wat wat jy as plantjie-polisie met hom sal hê, sal jy hom van die uniekheid van die Welwitschia, die belangrikheid van bewaring en die kwesbaarheid van die woestyn probeer leer. Daarna sal hy die onderneming gewillig teken, en jy sal dink dat julle mekaar verstaan. Maar moenie glo nie.

Welwitschia en sy besies, Probergrothius angolensis van die familie Pyrrhocoridae.

Kort na die begin van die eerste boorprogram ry ek die woestyn in om te gaan kyk hoe dit gaan. Voor ek die Land Cruiser stop sien ek dat daar nie ‘n druppan van ‘n uur oud in sig is nie. Dié is veronderstel om ‘n voorsorgmaatreël teen oliebemorsting onder die boormasjien te wees. Doer op die vlak fladder ‘n stuk toiletpapier aan ‘n daalderbos en die wese naaste aan my kar het pas so ‘n geweldige snotkanon geblaas dat ek nie weet hoe hy op sy voete kon bly nie. Ek haal ‘n paar keer diep asem tot ek die geklop in my slape voel raak minder.

Met my harde hoed op my kop en my inspeksielys onder die arm klim ek uit. Die hele perseel dreun en wemel. Helfte skarrel met reusesakke boormateriaal tot by die geoloë en die ander gee swaar boorstange aan wat in die boorgat moet af. Almal lyk dieselfde, geoorpak en gestofmasker en geheel en al toe onder die stof. Dis net aan die kleur van die harde hoede wat ek die boorspan van die geologiese span kan onderskei. Ek raai maar die boorman is die een aan die skerpkant van die masjien, die een wat die levers trek en bevele beduie. Van die skoon jintelman in die kantoor is daar nie ‘n teken nie. Opkyk en groet is ook min. Daar word net geboor.

Ek staan nog en wonder by wie ek moet navraag doen oor die gebrek aan druppanne toe die gedreun skielik stop en ‘n allermintige geblaas deur die lug klief. Almal wat kan spring uit die pad vir die waterval wat volg. Net Boorman lyk min gepla met die gevolglikke modder oor sy stofbekleedsel. Want meters, pappa, meters!   

Baie gou het ek geleer dat daar net een ding was wat ‘n kontrakboorman wou hoor of sien en dit was meters. Meters, hoe gouer hoe meer, was geld in die bank. En as jy tussen Boorman en sy meters wou in moes jy ‘n baie goeie rede of baie hare op jou tande hê. En meters was natuurlik net so belangrik vir die Maatskappy. Maar, die lisensiegrond waarop die projek was was in die nasionale park, en ons plantjie-polisie had ‘n omgewingsbestuurplan sowel as ‘n spiksplinternuwe omgewingsakte wat ons moes na leef en kon gebruik vir afdreigdoeleindes. Vroeg-vroeg was my tandhare nog min maar my rede was genoeg. Ek het baie goed geweet as ek nie die klein jakkalsies konsekwent sou aanspreek nie dit later in ‘n sneeubal kon ontaard. 

Spore oor die woestyn gipskors doen baie skade en kan vir baie jare sigbaar bly, wat natuurlik meer verkeer lok.

Geduldig wag ek maar tot die laaste meter geboor is en die stange uit die gat uit is. Nou moet hulle skuif na die volgende perseel toe, maar eers wil ek weet van die druppanne en die toiletpapier. Ja, almal kan onthou wat ons reëlings was, maar blykbaar is Vader Tyd nog besig om die panne in die dorp te weld en hulle het nie gereken “los niks agter” het gegeld vir toiletpapier ook nie. Groot verskonings volg en die heuningkwas kom behoorlik verby. 

Net soveel soos die kontrakboorman van boor gehou het het hy onbetaalde staantyd verpes. As daar geboor kon word wou hy boor, hy wou wil nie wag nie. Sou iets buite sy beheer maak dat die boor moes wag sou hy sy pond vleis eis en die staantydkoste later in sy rekening verhaal. Dit het natuurlik die kliënt, my werkgewer, op sy tone gehou. Maar gou het die bedryf my ook geleer dat jy ‘n boorman wat baie smile en praat net so min kon vertrou soos ‘n dronk ou wat deur ‘n spietkop afgetrek is. Hy steek iets weg, en met ‘n bietjie humor en tyd sou jy dit wel later oopkrap. 

Nou, baie kan van die Aussie-boorman gesê word, maar niks van sy boorvernuf nie. Boor kon hy boor. Hy het nie gespeel nie. Sy masjien het gewerk, en hy het geweet hoe sy masjien werk. Hulle het meters gegooi dat dit goed gaan. Sy breakdowns was min en kort en ‘n gewaggery het hom grensloos geïrriteer. Almal het gespanne rondgespring en gejaag om by die Aussie se knap skedule in te pas, want daar was betaal vir meters, nie vir rondhannahanna nie. 

Op ‘n dag doen ek weer my inspeksies. Gewapen met my GPS en kamera besoek ek al die persele wat in die vorige paar dae geboor is. Soos ‘n skooljuffrou-cum-spoorsnyer lees ek die tekens om te sien wie het hoe gery en waar gemors. 

Op hierdie betrokke dag vind ek toe ‘n kolletjie olie in die sand by elk van die boorpersele wat ek besoek. Nie ‘n groot kolletjie nie, maar elke keer op die selfde plek, so 50 cm van die boorgat af. Ek ly toe af dat ‘n hidrolise seël op die masjien gelek het en gedreig het om heel te breek. Nou, ‘n hidroliese seël wat breek terwyl die boor aktief boor was een van die grootste fiasko’s. Sulke tyd het almal so ver as moontlik weggestaan want die vuurwarm hidroliese olie sou die wêreld vol spuit. Die boor kon, en het al, selfs aan die brand slaan in so ‘n geval. ‘n Geweldige menslike gevaar, gemors en  impak op die omgewing. Dit was duidelik dat daar nie ‘n druppan was nie en die olie-besmette grond is ook nie verwyder nie. Two strikes.

Gips en liggeenvelde van die westelike-sentraal Namib.

Moeg vir smeek ry ek terug kantoor toe. Ek skryf ‘n verslag en beveel aan dat die boordery onmiddelik gestaak moet word en nie weer hervat moet voor al die persele behoorlik skoon is en die seël vervang is nie. Met my senior se handtekening daarop ry ek terug woestyn toe, welwetend dat ek nie ‘n heldeontvangs in die gesigstaar nie. 

Oor die tweerigtingradio verneem ek dat die boorman by sy kamp is. Sy assistent neem waar by die masjien. Oudergewoonte stop ek eers by die Welwitschia-afdraai om ‘n dampie te maak. Ons durf nie in die werksvoertuie rook nie, en die stop gee my kans om te kalmeer en my benadering te bedink. Ek weet vandag is die dag wat ‘n boorman homself gelyk gaan bekak, maar as ek verskrik by hom aankom gaan alle toekomstige dreigemente op dowe ore val. Ek besluit dus maar om my beste grootmeisepanty aan te trek en die stamperige tweespoor boorkamp toe aan te pak.

By die kamp gekom stop ek langs die Aussie se Land Cruiser. Die boorkamp is ‘n baie netjiese afêre. Dit bestaan uit twee lugverkoelde skeepsvraghouers wat parallel aan mekaar staan met ‘n kook-en-kuier gedeelte tussen die twee vraghouers. Dié area is beskut en heerlik koel met ‘n dak sowel as vloer van digte skadudoek. Die kokkie skarrel heeldag hier rond om heerlike etes vir sy mense voor te berei.  En dis net hier waar ek vir Aussie met die intrap raakloop.

Hoogs agterdogtig, maar gemaak gul, nooi hy my die koeltes binne.  Hy weet ek ry nie in die woestyn rond vir kuiertjies nie. Seker in ‘n poging om nonchalant voor te kom bied hy vir my koffie aan. Voor ek dink aanvaar ek die aanbod, maar met die gewete van ‘n aardsverraaier. Noodgedwonge word die praatjiemakery uitgerek tot die water op die gasstoof kook. Ek staan, brief in die hand, en voel hoe my sweet nat kolle teen die die koevert uitslaan. 

Venster-alge onde die kwartsklippe oorleef op die mis wat meeste dae oor die westelikste Namib hang.

Met die aanvat van die koffiebeker besef ek dis nou of nooit, en ek oorhandig vir brief. Voor hy dit oordentlik oopgevou kry het ek vir hom die agtergrond van die voorval geskets terwyl ek die brandende beker koffie in my hand verwens. Ek verskuif die koffie na die ander hand en kyk hoe Boorman se sonverbruinde gelaat al hoe valer raak. Die pienk kolle slaan op sy wange uit soos hy sy  kake klem. Hy lees die verslag in doodse stilte terwyl ek musical hands met die koffie speel. 

Toe ek nie meer weet wat om met die koffie te maak nie besluit ek om die brandende kooksel maar aan my lippe te waag. Versigtig vat ek ‘n kleeeeein slukkie, en besef dadelik met afgryse dat die melk suur is! Boorman het intussen woordeloos omgedraai en begin wegstap. Daardie tyd sien ek my kans om die koffie ongesiens in die drein af te gooi. Wat die oog nie sien nie kan die hart mos nie skade aandoen nie? 

Met twee vinnige treë is ek by die naaste wasbak en dop die koppie verlig oor die drein om. Maar in plaas van in stilte wegloop plas die onheilige brousel soos ‘n reuse-aanklag voor my voete neer. Die dreinpyp onder die wasbak wat ek uitgekies het was nooit aan die uitlaatpyp gekoppel nie! Ek het die koffie op hulle netjiese skadudoekbedekte kombuisvloer uitgegooi dat die modder teen die muur en teen my bene op spat!

Nodeloos om te sê het ek myself vinnig uit die voete gemaak. G’n haan het weer na die koffie-episode gekraai nie, maar die woestyn was opgeruim en almal het geweet waar hulle met mekaar staan. 

En die Aussie? Tot vandag toe is ons dankbaar dat hy ons maklike leerskool was vir al die interessante boormanstories wat ons later sou moes deurleef. 

2 thoughts on “Stories uit die Namib: Die Boorman en die Koffie

  • 9 September 2019 at 9:01 pm
    Permalink

    Kyk, eintlik had ek ten minste tien blaaie se kommentaar om hier uit te tik. Ek was mos immer SELF ook al die (stomme) wese agter die clipboard wat, soos ‘n keffende skootbrak waaraan niemand hulle eintlik steur nie, die oog-rollende massas moes aanvat oor afwesige en stukkende druppanne, toiletpapier wat fladder in die wind, en die mansspesie se neiging om oral behalwe BINNE-IN die port-a-loos te piepie… Maar kom ek volstaan daarby om te se DANK DIE VADER dat daardie hoofstuk van my lewe finaal verby is. En ja, ekself het ook al menige koppies (Ri-)coffee skelm-skelm in site offices se wasbakdreine afgegooi as niemand kyk nie… (Want oral word ‘n mens net ‘n stroopsoet brousel (goedbedoeld, moet ek byse) in die hand gestop sonder dat daar ooit gevra word of jy wel koffie drink of wil he of drie skopgrawe suiker vat…) So dank die Vader weer ‘n keer dat al daai wasbakdreine wel aan pype gekoppel was…

    Good on you dat jy jou stem dikgemaak en jou man gestaan het, Saar – dit vat BAIE murg in die pype. xxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxx

    • 10 September 2019 at 6:22 am
      Permalink

      Heheheeeeeeeeee, lekker lag ek nou! Stomme my suster, ek kan net dink hoe jy moes voel mit so ‘n beker in jou hand! Ja, ek het geweet as daar EEN is wat die storie beter ken as ek is dit jy. En daar’s nie tyd vir foefiefaffie nie of hulle is net nog dower! Darem kan ons nou lag oor (party van) die goed!
      xxxxxxxxxxxxxxx

Comments are closed.

%d bloggers like this: