Sentiment

Die mens is ‘n emosionele ding. Hy wil onthou. Hy versamel mementos. Goedjies wat hom herinner aan iemand of ‘n plek of ‘n gebeurtenis wat lekker was. Party maak fotos bymekaar, vir ander is dit musiekies of papiertjies of rondstaangoetertjies. So verskil elkeen se manier van sentiment opgaar. Mens voel die mementoes maak dat daai lekker nooit opraak nie. So het elkeen sy eie manier van sentiment uitdruk.

Myne gaar ek op in my hart. Lankal het ek geleer dat goeters tydelik is. Dit raak weg. Of dit breek. Of dit gee jou slapelose nagte van stres want jou huis raak te klein om alles te bêre en te veel om af te stof of te pak as jy trek. Maar die plek in jou hart raak nooit vol nie. Die plek raak net meer, en die goeters wat jy daar bêre en saamdra bly joune vir altyd.

Twintig jaar gelede het ek as au pair in Amerika gewerk. Soos alle reuse avonture was dit baie lekker aan die begin, maar soos die nuut- en snaaksigeid minder geraak, het die verlange huis toe meer geraak. Dit was in die dae wat selfone en internet al wel bestaan net,  maar nog lank voor almal daarmee in hul sakke sou rondloop. Een keer ‘n week kon ek huis toe bel, maar al wie gepraat het was my moeder. Aan my kant kon ek net snik en snotbelle blaas, praat kon ek nie. Die bellery kon ook nie lank of meer gereeld wees nie, daarvoor was dit te duur. Wat my ma haar toe laat wend tot al wat sy kon: pen en papier.

Daai vrou trek daar los en sy skryf. Die een novelle na die ander, los maar vir opstel. Soms nagte om. Sy skryf haar vinger in ‘n soort eelt in wat mens in ‘n leeftyd se tik nooit kan afskud nie. Sy moes soms sinneloos van moegheid wees na ‘n vol dag se skoolhou en vraestelle ook, want een keer het sy in ‘n brief vertel hoe sy amper die koffie op haar kop uitgegooi het want haar kop het gejeuk en toe krap sy met die koffiehand. Seker het sy toe gaan slaap, ek weet nie. Of nog ‘n stukkie geskryf.  

Sy moes net, so het sy gevoel. Dis al wat sy kon doen om tot daar ver by haar kind te kom. Om die ver kind ‘n bietjie nader te laat voel. En dit het gewerk. Net soos haar “drink ‘n Disprin en gaan bad” raad as ek hartseer was. My bloed was later so dun van al die Disprins ek het net gebid dat ek nie val of myself raakskeer nie, want uitbloei sou ek beslis.

Toe, ‘n paar weke voor ek kon uitklaar laat weet die agentskap ons hou ‘n International Day. Elke au pair moes ‘n stalletjie maak met informasie oor sy land. Die kinders loop dan van stalletjie tot stalletjie met ‘n “paspoort”, leer van al die lande en plak ‘n plakker van die betrokke land se vlag in hul paspoorte.    

Waar daar meer au pairs van een land was kon hulle saammaak. So beland meeste van my vriendinne toe óf in die Duitse groep óf in die Suid-Afrikaanse groep. Daar was aanvaar dat ek nie alleen sou wou werk nie en sommer by die SA groep sou inval. Niemand het dus ‘n blad Namibiese vlag plakkers te laat druk nie. Maar toe misreken hulle vir hulle met ons suidwesters!

Ek kap dieselfde dag nog ‘n lyn Keetmans toe en sit my voorsate aan die werk. Dié is so dankbaar om uiteindelik van my te hoor, na maande van net snikke en snotbelle, dat hulle die kerse sommer aan vier kante begin brand. Ouma Gesie skryf koekieresepte af terwyl ma Martje boekies en brosjure bymekaar maak en blaaie uit die koeffietafelboeke by die haarkapper steel. Hulle slaan ‘n allermintige pakkie aanmekaar en gooi hom op ‘n vliegtuig.

Met die pakkie se aankoms aan my kant gaan ek aan die bak en spoeg en plak. Om my is dit net papiere en knipsels. Dit ruik soos huis. Ek vreet die hele eerste baksel Hertzoggies een-een self op. Dit proe soos huis.

Met die International Day was die Amerikaners diep beïndruk en betower deur die smake en beelde van my land. Van Sossusvlei tot die Visrivierskeurvallei, van die Namib tot die Kalahari, die Skedelkus tot die Kavango. Niemand kan glo dat daar so ‘n land in Afrika is nie. En met die wegstap was vir elkeen ‘n unieke Namibiese posseël uit my sentimentboks in hulle paspoorte geplak. ‘n Eg-Namibiese memento, met nog die poskantoorstempel ook op. Ek het baie gehad. My ma het gesorg. 

We love to hear from you!

%d bloggers like this: